Die Begin
Ek wil nie voorgee dat ek ooit myself gesien het as onderwyser nie, en daarom was dit nogal ‘n aanpassing om weer gewoond te raak aan die roetine van skoolgaan. Soos enige jong onderwyser, was ek aanvanklik skepties en selfs ‘n bietjie skrikkerig.
Ek is ‘n gegradueerde Sielkunde student, wat aan die einde van 2009 besluit het om aansoek te doen vir onder andere ‘n paar onderwysposte, aanvanklik net om te kyk of ek vir enige onderhoude genooi sou word. Eers toe ek vir my eerste onderhoud genooi is, het ek dit regtig ernstig begin oorweeg, en toe ek ‘n pos aangebied is by ‘n skool, het ek besluit dit sal vir my ‘n goeie uitdaging wees om die pos te aanvaar.
Ek wil nie voorgee dat ek ooit myself gesien het as onderwyser nie, en daarom was dit nogal ‘n aanpassing om weer gewoond te raak aan die roetine van skoolgaan. Soos enige jong onderwyser, was ek aanvanklik skepties en selfs ‘n bietjie skrikkerig, veral aangesien ek juis bewus is, vanuit my Sielkundige agtergrond, van die probleme wat hedendaagse tieners moet hanteer en die kinders wat ek sou onderrig uit sogenaamde “minder-bevoorregte” areas kom.
Ek sal eerlik wees en sê dat daar meer as een keer beelde van mes-gevegte, vuis-gevegte en bek-gevegte in my geestesoog verby geflits het, in die weke voordat skool begin het. Met my “veglustige” gedagtes het ek toe my nuwe hoërskool betree, nie werklik seker van wat op my wag nie.
Ek sal wil kan sê dat al my vrese van my nuwe hoërskool verniet was, maar soos wat dit dikwels in die realiteit werk, was dit nie die geval nie. Tog, het ek gevind dat tieners nie heeltemal so anders is as wat ek hulle onthou nie. Ja, daar was al ‘n paar vuis-gevegte en meer as ‘n paar beledigings en konfrontasies tussen kinders wat ek en my kollegas al moes hanteer, maar tog vind ek dat die tieners van vandag in baie maniere nog baie dieselfde is as wat ek hulle onthou. Daar is nogsteeds die raserige kinders, altyd vol grappies, die stil kinders wat nie raak gesien wil word nie, die verliefdes, die dag-dromers en daardie kinders wat net wil hê iemand moet vir hulle ‘n bietjie aandag gee.
Ek het reeds genoem dat my nuwe hoërskool ‘n skool is wat bestaan uit hoofsaaklik “minder-bevoorregte” leerders, en ek reeds voor die skooljaar begin het deur van my kollegas ingelig is oor die moeilike, soms ondenkbare, situasies waardeur baie van die leerders al moes kom. Dus was dit onmiddelik opvallend hoe vreugdevol meeste van die kinders in my hoërskool is, en enige geleentheid gebruik om dit vir my as onderwyser te wys. Of dit nou is om vir my te groet met ‘n groot glimlag, vir my te waai na skool, of vir my te kom vertel van hul families, is dit ongelooflik hoe hierdie leerders skool kan gebruik om, selfs net vir ‘n kort rukkie, van hul probleme te vergeet.
Ek is alreeds bewus daarvan dat dit nie maklik is om ‘n onderwyser te wees nie, en ek weet dat ek waarskynlik voor die einde van die jaar ‘n paar keer die handdoek (of handboek) gaan wil ingooi, maar ek het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor my leerders om die beste onderrig te gee wat ek kan. Ek noem dit MY nuwe hoërskool omdat ek as onderwyser onlosmaaklik deel is van die sisteem, en op my eie manier ook (weer) hoërskool moet oorleef.
Teacher's Monthly experience
No comments yet.